|
|
|
 |
AgriBonus jaag die nuwe jaar binne met ’n splinternuwe stel
wiele. Hulle gaan vanjaar by elke ekspo, boeredag, skou en landbougeleentheid
kop en skouers bo die res uitstaan, of is dit nou kop, waentjie en
bakkie? Volgens Lutz Nell, besturende direkteur van AgriBonus, pak
hulle die nuwe jaar vol moed aan en is hy en sy span baie opgewonde
om weg te spring met hulle nuwe idees.
AgriBonus se jongste inisiatief is om ’n sleepwaentjie na die
boere te neem waarin al die gewildste produkte waarvoor punte ingeruil
word, beskikbaar is. U sal nie hierdie waentjie op die pad of by u
volgende landbougeleentheid kan miskyk nie, dit is duidelik gemerk
met die AgriBonuslogo, asook hulle kontakbesonderhede.
Toits Motorgroep sal regdeur die jaar vir AgriBonus van ’n sleepvoertuig
vir die waentjie voorsien, ook duidelik gemerk met die Toits en AgriBonus
logo‘s. Dus kan u sommer daardie bakkie waarin u belangstel
van naderby aanskou, dit bestel by Toits Motorgroep en sodoende Bonuspunte
verdien.
Die sleepvoertuie sal deur die jaar wissel om al Toits se bakkies
en 4x4’s aan u bekend te stel. Dit sal insluit die Nissan reeks
met die Pathfinder, Navara, X-Trail en Hardbody, asook die Ford, Mazda
en Mahindra voertuie wat Toits aanhou. Dus sal ’n wye reeks
voertuie aan die boere bekendgestel word.
Volgens Ernie Bredenhann, bemarkingsbestuurder van AgriBonus, het
hulle besluit dat hulle so ietsie ekstra wil doen wanneer hulle boeredae,
vergaderings, uitstallings en landboukongresse bywoon. “Dit
sal ook inskakel by ons nuwe bemarkingsfokus op ons lede. Ons het
besluit om die sleepwaentjie in te rig met die gunstelingprodukte
en saam met ons te neem na al hierdie geleenthede,” sê
Bredenhann.
Besoek gerus die AgriBonuswaentjie. Dit is toegerus met ’n rekenaar
met die hele -AgriBonusdatabasis daarop. Dus kan u nie net u punte
inruil vir produkte nie, AgriBonus kan vanuit die waentjie vasstel
presies wat u huidige puntestatus is. Nou weet u of u daardie Gedore-gereedskapskas
of Weber-braaier kan bekostig, of eerder net een van die handige koffieflesse
of ’n MPO hoed en kan u dit sommer op die plek inruil, sonder
om te wag.
U kan ook meer uitvind oor presies hoe die AgriBonuspuntestelsel werk
waar u punte kan verdien en inruil en presies hoe u u punte inruil.
Die AgriBonuswaentjie bied AgriBonus die geleentheid om al u vrae
persoonlik te beantwoord en dit boonop op u voorstoep!
Die AgriBonuswaentjie sal toegerus wees met verskeie produkte, wat
kampeertoerusting soos tente, asook gereedskap, klerasie en vele meer
sal insluit alles wat die lede graag aankoop. “Die waentjie
bied die geleentheid vir die inruil van punte wat ’n ekstra
waardetoevoeging vir ons lede en vennote is. Dit dien ook as bemarkings-
en kommunikasiemiddel,” sê Bredenhann.
Bredenhann belowe ook dat enige produk wat u graag wil aankoop, maar
wat nie in die waentjie is nie, daar en dan vir u bestel sal word
deur die AgriBonusdienssentrum. Hierdie produk sal dan by u naaste
verskaffer beskikbaar gestel word. Hy herinner lede verder dat dít
wat in die Bonus geadverteer word, nie die enigste produkte is waarvoor
u punte kan inruil nie, u kan vir enige produkte aansoek doen, al
is dit nie by AgriBonusvennote beskikbaar nie.
Die waentjie was reeds by die MPO Noord roetevergaderings te sien,
waar boere hul verkyk het aan al die wonderlike produkte. Theo van
Vuuren van Standerton was een van die eerste boere wat die geleentheid
gebruik het om sy punte om te ruil. Hy het vir hom dr Koos Coetzee
se nuwe boek, Verstaan die Ekonomie, gekoop en dink dis ’n baie
goeie idee dat AgriBonus hul produkte na die boere neem.
Bonus sal u op hoogte hou van waar in die land Bredenhann en die waentjie
hulle bevind. U is ook welkom om AgriBonus op die hoogte te hou van
enige boeredag of ander landbou-geleenthede wat in u omgewing plaasvind.
Skakel die AgriBonusdienssentrum by 012 804 4809.
Kyk dus landwyd uit vir die nuwe AgriBonuswaentjie by u aangeleenthede.
Maak seker om die waentjie dadelik te besoek vir al u produk behoeftes
en knoop terselfdertyd sommer ’n geselsie aan oor u puntestatus
en wat u alles met met u punte kan doen. Daar sal verseker iets
wat elkeen se verbeelding prikkel te vinde wees in die nuwe AgriBonuswaentjie.
|
 |
| |
 |
| deur Ludolph Swanevelder, voorsitter van die Nasionale
Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid Afrika (Chasa) |
| |
Met die jagseisoen net om die draai, het Bonus
namens al die jagters onder ons lede gaan uitvind wat die nuwe nuwe
Wapenwet behels. Die nuwe wet op die beheer van vuurwapens het op
31 Julie in werking getree. Vir soverre die owerheid se stelsels
en strukture dit toelaat, word die nuwe wet nou toegepas. En waar
die nodige praktyk ontbreek, geld die ou wet steeds. Die nuwe wet
het twee vername aspekte wat jagters raak hernuwing en opleiding.
Oor die volgende vier jaar moet alle huidige lisensies hernieu
word. Wapeneienaars wat vanaf Januarie tot Maart verjaar, moet
voor 31 Maart 2006 hulle lisensies hernieu, April tot Junie doen
dit voor 31 Maart 2007, Julie tot September voor 31 Maart 2008
en die laastes in 2009.
Lisensiëring moet voorafgegaan word deur vaardigheidsopleiding
in wapenhantering en kennis van die wet. Teoretiese sowel as praktiese
opleiding moet by ‘n opleidingsinstansie wat beide SAS Seta
(Police and Security Sector Training Authority) en SAPD geakkrediteer
is, voltooi word. Die praktiese skietwerk moet verder op ‘n
SABS 3503-geakkrediteerde skietbaan plaasvind. Daar is vier kategorieë
van vaardigheidsopleiding, naamlik handwapen, jaggeweer, haelgeweer
en semi-outomatiese gewere. Vir leke kan die opleiding tot 100
uur duur. Erkenning word egter aan huidige kennis en vermoëns
gegee. Die opleidingsbedryf noem dit RPL (Recognition of Prior
Learning). Daarvolgens sal ‘n daglange kursus waarskynlik
voldoende wees vir die meerderheid jagters. Die kursusse se koste
beloop tans sowat R400 vir die eerste kategorie wat voltooi word
en dan halfprys vir elke volgende kategorie.
‘n SAS Seta-sertifikaat word nou aan die leerder uitgereik.
Hiermee gaan hy SAPD toe. As hy 21 jaar oud is, ‘n SABS-kluis
het en aan al die karakter vereistes voldoen, ken die SAPD ‘n
bevoedheid sertifikaat aan hom toe. Die koste hiervan is tans
R70. Die individu is nou vir vyf jaar gelisensieer en hierna kan
hy aansoek doen om lisensiëring van die wapen. Die koste
is R140 vir ‘n nuwe aansoek en R70 per wapen vir hernuwings.
Om tyd te spaar, kan die laaste twee aansoeke gelyk ingedien word.
Hou egter in gedagte dat die risiko van ‘n -administratiewe
fout hierdeur verhoog word.
Vir die eerste rondte van hernuwings word ‘n toegewing gemaak
waarvolgens slegs die teoretiese gedeelte van die SAS Seta opleiding
gedoen hoef te word. Dit kos sowat R200. Die SAS Seta reik tans
nie ‘n sertifikaat hiervoor uit nie, die opleidingsinstansie
se eie sertifikaat word hiervoor aanvaar. Die bedryf verwag weer,
soortgelyk aan die fiasko met bestuurderslisensies, ‘n dolle
gejaag op die laaste nippertjie. Die vaardigheidsopleiding se
sertifikaat is tydloos. Daarom word jagters dus aangemoedig om
binne die volgende maand of twee die hele kursus te voltooi. Ná
2008 is dit in elk geval verpligtend om oor die volle kursus te
beskik.
As jy vir ‘n vyfde (of meer) wapen aansoek doen, benodig
jy verder ook status as Toegewyde Jagter. Hierdie status word
nie deur die SAPD uitgereik nie, maar deur ‘n geakkrediteerde
jagtersver-eniging. Daar is tans 21 jagtersverenigings met geakkrediteerde
status. Die SA Jagtersvereniging en SA Wingshooters is direk geakkrediteer.
Die negentien Chasalidverenigings het hierdie status via ‘n
sambreelakkreditasie van Chasa. Die lidverenigings sluit Amatola
Hunters, Big Bore Association of South Africa, Border Hunting
Club, Bosveld Jagters, Bosveld Wapen en Ammunisievereniging, Eastern
Cape Game Management, Handwapenjagtersvereniging van Suider-Afrika,
Hoëveld Jagters, Kaapse Jagters, Kalahari Jagters, KwaZulu-Natal
Jagters, Laeveld Jagters, Noord-Kaap Jagters, Noordwes Jagters,
Probleemdierbeheervereniging van SA, SA Sport en Jagfederasie,
SA Jaggeweerskietvereniging, Suid-Kaap Jagters en Vrystaat Jagtersvereniging
in. Hierbenewens het drie van hierdie Chasa-lidverenigings ook
geakkrediteerde status in eie reg bekom. Ons sal in die volgende
uitgawe van Bonus breedvoerig verduidelik hoe Toegewyde Jagter
status bekom word.
|
| |
 |
| |
 |
| |
Die Departement Landbou het onlangs die bekenstelling van hule
nuwe agritoersimeprogram aangekondig tydens ‘n konsultasiewerkswinkel
vir rolspelers in Pretoria. Hierdie inoverende program, Agritoerisme
Suid-Afrika, bring gemeenskapsgedrewe landbouprojekte en toerisme
bymekaar om armmoede te verlig en ekomomiese groei te stimuleer
binne die geïdentifiseerde armmoedenodusse. Hieride besighede
sal óf funksioneer as produkverskaffers vir die toerismebedryf,
óf as toerismebestemmings.
“Ons hoop dat die sukses van die toepaslik geskakelde landboubesighede
met die groeiende toerismebedryf ver kan kom in die bemagtiging
van plattelandse gemeenskappe,” sê Thoko Didiza, Minister
van Landbou en Grondsake.
Die doel van die werkswinkel was om die agritoerismeprogram aan
‘n breë groep rolspelers met belang in die landbou- en
toerismesektore, bekend te stel, asook om die institusionele reëlings
wat in plek gesit is vir die program, aan te kondig.
Seniordirekteure van die van die Departement Landbou, HUBs van die
provinsiale en plaaslike regeringstoerisme-instansies, asook direkteure
uit die toerisme- en kleinhandelbedrywe het die werkswinkel bygewoon.
Rolspelers kon idees uitruil en insette op die program lewer.
Die land is verdeel in 21 presidensiële armmoedenodusse, waarvan
13 in plattelandse areas is en agt in stedelike gebiede. In elk
van hierdie nodusse is ‘n minimum van twee projekte geïdentifiseer
en gekulmineer in 51 projekte. Besigheidsplanne is vir elke projek
ontwikkel, wat die skakel tussen landbou en toerisme en die spesifieke
behoeftes wat elke projek ‘n suksesvolle onderneming tot die
voordeel van die gemeenskap sal maak, duidelik identifiseer.
“Ons is tevrede met die resultaat van die werkswinkel. Dit
het die platform geskep vir potensiële befondsing, beleggers
en kopers van produkte en dienste om hul ondersteuning vir Agritoerisme
Suid-Afrika te wys. Die toerismebedryf en diegene in die eertse
ekonomie wat befondsing gee, is gebonde aan die program,”
het Didiza gesê.
Die program word gedryf deur die EPA Konsortium, wat bestaan uit
landbou- en toerismespesialiste, sosiale fasiliteerders, opleiers,
regtelike kenners, belanghebbende bestuurders en bemarkingskommunikasiekenners,
sodat hierdie projekte in winsgewende ekonomiese entiteite binne
die toerismebedryf ontwikkel kan word.
Vir meer inligting, skakel Steve Galane by 083 635 7346 of besoek
www.agritourismsa.co.za.
|
 |
|
 |
| |
Nissan-bakkies is voertuie wat al diep spore in Suid-Afrika getrap
het, onthou u nog die bekende 1200 en 1400 reekse? Hulle is allerweë
beskou as harde werkers wat jou nooit in die steek sou laat nie. Toe
het die Hardbody’s gekom, en weer eens het Nissan ‘n duidelike
voetspoor in die markplek gelaat. Dié reeks het sy naam gestand
gedoen en sy fors lyne het die indruk van die “hardheid”
van Afrika weerspieël.
Die Navara, wat verlede jaar vrygestel is, het die Nissan-bakkie ‘n
stappie verder geneem. Die fors lyne en “hardheid” is
nog daar, maar daar is nou meer daarvan. Die Nissan Navara is groter
as sy vorige boeties en hy staan trots in die ry van sy eweknieë
in ons land se toonkamers.
Ons het die Navara-dubbelkajuit tweewiel aandrywing onder hande gehad
en dadelik besef dat Nissan daarin geslaag het om ‘n goeie balans
te kry tussen ‘n werk- en ontspanningsvoertuig. Die binneuitvoering
is glad nie bakkie nie en die ry-ervaring laat jou vergeet dat jy
eintlik ‘n laaibak van 1 511 mm by 1 560 mm agter jou het. Boonop
is die ruimte tussen die agterwielbakke ‘n hele 1 130 mm. Die
diepte van die bak is 457 mm. Nissan maak vragvasmaak nou baie makliker
met die sogenaamde “Utiliti-track”vragsisteem. Die vier
vasmaakpunte loop aan beide kante op ‘n spoor en laat sodoende
baie konfigurasies van vragvasmaak toe. Daar is ook vier bakgemonteerde
vragtouringe vir die ekstra vasmaak. As die bak volgelaai is (‘n
laslading van 967 kg), bly die dakrak oor. Die rak is so gevorm dat
windweestand tot ‘n minimum beperk is en dit ‘n volle
100kg kan dra.
Dis die binneruimte van die Navara wat jou laat vergeet dat jy ‘n
ligte handelsvoertuig ry. Die voorste sitplekke slaan plat, die agterste
sitplekke het ‘n 60/40 voukonfigurasie en elektriese vensters.
Die instrumentepaneel het al die nodige meters op die regte plekke.
Daar is, soos by baie ander voertuie, ‘n radio en ‘n voorlaai-CD-speler.
Die lugreëling werk ook goed. ‘n Mens het ‘n goeie
sig op al die -belangrike meters en die sitplekke se ondersteuning
is uitstekend. Die Navara het ‘n sesspoedratkas die sesde rat
kan as ‘n snelrat beskou word, met ‘n verhouding van 0,769.
Dié hoogste rat sal natuurlik help om die brandstofverbruik
in toom te hou. Die Navara spog ook met spoedbeheer.
‘n Mens moet verwag dat die V6-kragbron van byna 4 liter nie
baie suinig met brandstof gaan wees nie. Kyk mens na die verrigting
van die Navara, sien jy ‘n allemintige 385 Nm wring teen 4 000
opm. Die kraguitset is 198 kW teen 5 600 opm. 'n Mens kan voel dat
die Japanner skop in sy hart het as jy die -brandstofpedaal intrap.
Wanneer dit by die maneuvreerslag kom, is gevind dat die draaisirkel
van 13,5 m ‘n bietjie wyd is, veral as ‘n mens met so
‘n lang voertuig te doen het (‘n algehele lengte van 5,2
m en ‘n wydte van 1,85 m).
In die geheel gesien, is die Navara sy geld werd. Die model wat ons
gery het kos R273 450 volgens die jongste gegewens. Jy kry baie voertuig
vir die geld en hopelik sal die Navara vir homself, net soos die Hardbody,
‘n plek in die mark oop ry. |
 |
| |
|